Padwoede ontstel Print E-mail
News - Briewe
Sunday, 17 November 2013 20:43
Untitled Document

Giep van Zyl van Rietfontein skryf:
Ek skryf oor padwoede deur ‘n vrou, want ek kan haar nie ‘n dame noem nie. Omstreeks 8.15 vm op 23 Oktober was ek tussen die Tierpoort Winkelsentrum en Farm Shed-winkel met Garstfonteinweg op pad na Faerie Glen, toe ek ongeveer ‘n halwe kilometer ver ‘n Opel Astra/Kadet sedanmotor opmerk wat aan dieselfde kant van die pad as Farm Shed wag om op Garsfonteinweg aan te sluit.

Ek het teen die toegelate 100 km/h gery en hoewel die bestuurder van genoemde motor oorgenoeg tyd gehad het om betyds voor die verkeer in te beweeg, het sy gewag tot ek seker omtrent 100 meter van haar af was, en het toe voor my ingery.

Onnodig om te sê moes ek redelik hard rem en het terselfdertyd my misnoeë te kenne gegee deur vir haar ligte te flits. Asof haar genoemde oortreding nie genoeg was nie, slaan sy remme aan voor my en verplig my om hard rem aan te slaan om nie in haar motor vas te ry nie, waarna sy weer spoed vermeerder het.

Toe ek my flikkerlig aanskakel om by Farm Shed in te draai, doen sy dieselfde en sny by die ingang voor my in, waarna ek langs haar stop en eerste verneem wat haar besiel het, aangesien ek volspoed gery het.

Haar reaksie: “Maar jy moes nie volspoed gery het nie.” So, volgens haar reaksie verwag sy seker dat die verkeer wat reg van weg het op Garsfonteinweg vir haar moet stop om aan te sluit.

Wat ‘n belaglike redenasie deur ‘n vroue-bestuurder van ongeveer in haar vyftiger jare, wie ek daarop gewys het dat daar reeds ‘n yslike duik op die regterkant van haar motor is. Sonder enige verdere kommentaar het sy omgedraai en voortgery in die stad se rigting.

In die lig van voorgaande gebeure kan ‘n mens maar net hoop die persoon gaan nie een of ander tyd haarself en/of onskuldige mense op ‘n pad, wat na my mening reeds geklassifiseer kan word as ‘die pad van die dood’, se dood veroorsaak nie.


Ek hoop van harte sy kry hierdie brief onder oë en maak haar nooit weer aan so ‘n sinnelose optrede skuldig nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger