Hond byt my man Print E-mail
News - Briewe
Monday, 27 January 2014 21:58
Untitled Document

Rita Duvenhage skryf:
Op 10 November besluit ons die Sondagoggend om twee van ons kleinkinders uit te vat na die Boskombuis net buite Kleinfontein vir ontbyt (het gehoor dis so ‘n oulike en gesellige plek) sodat hulle bietjie op die springkasteel kan speel.

Daar gekom, kies ons ‘n geskikte tafel om by te gaan sit om ‘n heerlike oggend saam met die kinders te kan geniet. En het hulle nie die pragtigste, vriendelikste (onder andere) twee Boerboele nie. Hulle kom sit by ons, vryf hulle koppe wat hulle op ons skoot neersit, te dierbaar vir woorde.

‘n Dame wat by die kroeg gesit het, nie ver van waar ons gesit het nie, vra toe vir my man of hy nie vir haar ‘n sigaret het nie.

"Seker," sê hy . . . en die volgende oomblik breek daar chaos uit. Die oomblik toe hy opstaan, storm een van die groot Boerboele hom! Eers byt hy hom aan sy enkel, toe aan sy kuit en toe gaan hy vir sy keel. (Ek sê net dankie Vader dat hy nie afgebuk het nie.)

Hoe op aarde kan die eienaar van ‘n openbare eetplek sulke ("vriendelike") aggressiewe honde laat los rondloop waar mense en klein kindertjies bymekaar kom?

Ons is dadelik met hom Wilgers Hospitaal toe waar hy die nodige behandeling en inspuitings ontvang het. Duisende rande later aan hospitaalkostes en opvolgbesoeke en nog inspuitings, praat ek nie eers van die naskok wat hy moes deurmaak nie.

Drie weke later lyk veral die wond aan my man se been geensins beter nie. Kan julle dink die pyn en lyding waardeur hy is? Verlies aan sy daaglikse werk? Ens . . . ens. Om die minste te sê was/is dit vir ons ‘n geweldige traumatiese ervaring gewees wat ons nooit sal vergeet nie! Ek glo nie my man sal ooit weer dieselfde wees, wat sy gesondheid aanbetref nie.

Die "oulike, gesellige" Boskombuis, sal ons nooit weer sien nie.

Boskombuis antwoord:
Reneé Thompson, eienares van die Boskombuis, het nie die voorval gesien nie, maar was onmiddellik op die toneel ná die hond, Delary, mnr Duvenhage gebyt het: “Delary is al etlike jare ons troeteldier en het nog nooit enige gaste aangeval nie. Ons hou talle funksies en het nog nooit enige soortgelyke probleem ervaar met ons honde nie.

Ons het die gaste waarna me Duvenhage verwys asook ander getuies genader om te bepaal wat gebeur het. Die persoon waarna me Duvenhage verwys wat volgens haar weergawe haar man gevra het vir 'n sigaret, Charmain Coetzee, het my meegedeel dat sy nooit vir mnr Duvenhage genader het vir 'n sigaret nie.

“Mnr Duvenhage het haar genader en aangebied om haar sigaret aan te steek. Hy het sy hand op haar skouer geplaas en dis toe dat Delary hom storm. Hy het Delary geskop en na hom geslaan waarna Delary hom gebyt het. Van die gaste vertel dat mnr Duvenhage vroeër vir Delary getart het, en nie vertroetel soos me Duvenhage beweer nie.

“Mnr Duvenhage het geskreeu dat hy Delary gaan skiet ten aanskoue van die gaste. Ons gaste het hom gesmeek om nie vir Delary te skiet nie, waarna ons onmiddellik die hond weggeneem het.

“Die eerste ding wat mnr Duvenhage my gevra het na die voorval is of ons verseker is, desnieteenstaande die feit dat die Duvenhages steeds geen kontak of eise by ons ingedien het nie.

“Charmain se vriend, Jan, het aangebied om vir mnr Duvenhage 'n drankie te koop en hulle het vir meer as ‘n uur verder lekker gekuier. Mnr Duvenhage is nie onmiddellik hospitaal toe gejaag soos beweer nie.

“Wat baie ontstellend is, is dat mnr Duvenhage voor die gaste gesê het dat hy voorheen amper deur sy eie hond verskeur is. Dis eienaardig dat ons honde nooit enige gaste aangeval het nie, behalwe ‘n gas wat al deur sy eie hond aangeval is.

“Dit is ongelooflik dat me Duvenhage Die Bronberger meegedeel het dat hulle onmiddellik hospitaal toe moes jaag, derduisende rande moes spandeer aan mediese onkostes, verlies aan inkomste ly, pyn en lyding, verdere trauma en dat mnr Duvenhage nooit weer dieselfde sal wees nie. 

“Dit is ons opinie dat me Duvenhage slegs sensasie verlang aangesien sy die saak oordra as baie ernstiger as wat dit werklik is. Mnr Duvenhage kon nie te erg beseer en getraumatiseerd gewees het as hy nog verder kon kuier sonder onmiddellike mediese behandeling nie.

“Ons is in oorleg met ons regsverteenwoordigers om verdere stappe te neem teen me Duvenhage vir naamskending weens valse bewerings gemaak in haar skrywe aan Die Bronberger.

“Ons wens u te dank vir die geleentheid gegun om ons weergawe van die gebeure aan u en die lesers te stel”.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger