Nog klagtes oor fietsryers Print E-mail
News - Briewe
Monday, 27 January 2014 21:59
Untitled Document

Pieter du Preez van die Bronberg-gebied skryf:

Na aanleiding van ‘Vonke spat oor fietsryers op Boschkop-pad’ in Die Bronberger se November-uitgawe: Ek is ook ‘n gereelde gebruiker van die Boschkop-pad en Lynnwoodweg-verlenging en is self al moeg vir die selfsugtige optrede van die Velo-klub se fietsryers. Ek ken van die lede daar en glo dat die meeste van hulle gawe mense is.

Om ‘n lang storie kort te maak: Dit is onwettig om langs mekaar te ry – punt. Ek gee glad nie om dat fietsryers dieselfde smal, skouerlose pad as ek gebruik nie, mits hulle agter mekaar ry soos die wet vereis.

Dis snaaks dat die meeste klagtes gaan oor diè spesifieke klub se ryers. Meeste van die ander fietsryers ry agter mekaar juis omdat dit so ‘n nou pad is. Diegene wat wel twee-twee langs mekaar ry kom in enkel gelid in sodra ‘n voertuig aankom. Die feit dat Velo se lede die hele baan tot op die wit streep opneem en glad nie bereid is om plek te maak vir voertuie agter hulle nie, is onaanvaarbaar.


‘n Bondel fietsryers by die Boschkop-pad se aansluiting met Lynnwoodweg-verlenging

Ek het die onplesierige ervaring gehad om hulle ongeskikte motorbestuurder wat agter hulle ry te ontmoet by die Tygervallei-skool se verkeerslig. In antwoord op my vraag hoekom hulle nie agter mekaar kan ry nie het hy my gevloek en gesê ek moet hulle self gaan vra.

Die snaakse deel daarvan was dat, terwyl hulle motorbestuurder by die verkeerslig moes wag, die
Velo-groep geen probleem gehad het om op Lynnwoodweg-verlenging in enkel gelid te ry nie.

Mnr Hansie Joubert is heeltemal reg dat fietsryers net soveel reg het om die paaie te gebruik – mits hulle die wet gehoorsaam.

Dit wil vir my voorkom asof dit slegs die een manspersoon wat altyd onder sy spanmaats uitry, is wat die wet onderhou op die stadium. Die res van julle oortree die wet.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger