Ons kontrei se vroue was ook daar Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 27 February 2014 23:13
Untitled Document

Yvette Otto van Cullinan skryf:
Op 16 Desember het nagenoeg 3 000 mense bymekaargekom vir die honderd jaar herdenking van die Vrouemonument. Die monument het haar verhaal vertel en ons het baie klein gevoel.

Die oggend het afgeskop met ‘n vroeë biduur by die twee-toringkerk, soos ook 100 jaar gelede, gelei deur dr Andrew Murray. Linda Malan van Cullinan het Psalm 130 en ‘n verwerking van “Op berge en in dale” met haar suiwer stem en pragtige orrelspel uitgevoer.

Na die gewyde samesang en gedenkdiens was daar ‘n kranslegging deur ongeveer 40 kerke, organisasies en instansies. Yvette Otto van Hervormde Kerk, Premiermyn in Cullinan is gevra om namens die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes ook ‘n krans met ‘n boodskap te lê.

Die feitgebaseerde toneelstuk, ‘Ek sien haar wen’, saamgestel deur Lucia van den Berg van Kleinfontein, is aangebied. Van die groep toneelspelers, was agt lidmate van die Hervormde Kerk, Premiermyn in Cullinan.

Hulle het die rou emosies van moeders, vaders en kinders in haglike, onmenslike situasies uitgeroep. Voor die monument het die verhaal hom afgespeel: ‘n Verhaal van onskuldige slagoffers van die Britse Verskroeide Aarde-beleid. ‘n Verhaal van vroue wat met alle mag hulself en hulle kinders teen siektes, swak higiëne, gebrekkige mediese sorg en honger moes beskerm. ‘n Verhaal wat ‘n afgryslike realiteit is.

Die geskiedenis van dapper vrouens, kinders, versplinterde gesinne – tot die uiterste beproef – sny sieldiep. En ek weet dat hulle met geloof elke dag – en die toekoms waarvan ons vandag deel is – aangepak het. En ek weet my kinders, ons kinders, het ook ‘n toekoms.

Brief verkort. – Red

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger