Teleurgesteld met Cullinan Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 April 2014 23:43
Untitled Document

EM Bronkhorst van Marble Hall skryf:
Ek was in die verlede ‘n gereelde besoeker aan Cullinan en het dit geniet om deur die winkels in Oaklaan te dwaal, en ‘n klein juweel as aandenking saam te neem huis toe. Daar was verskeidenheid, daar was kwaliteit; daar was opwinding.

Na ‘n afwesigheid van ‘n paar jaar het ek besluit om weer die uitstappie te onderneem. Tot my spyt moet ek erken dat dit vir my tot ‘n groot mate ‘n teleurstelling was. Wat het geword van die ‘quaint’ winkeltjies van destyds?

Wat my veral gepla het was die groot mate van oorvleueling en herhaling – bykans elke winkel verkoop skilderye – van wisselende gehalte. Baie winkels verkoop ‘n saamgeflanste verskeidenheid van ‘goetertjies’, juweliersware en ander ‘bric a brac’. Daar is nie minder nie as twee winkels wat lekkergoed verkoop.

Wat my wenkbroue egter werklik laat lig het, was dat ‘n hele aantal van die winkels ‘n restaurant (as ‘n mens dit so kan noem) op die ‘side line’ bedryf. Dit het my laat wonder hoe die bona fide-restaurante daaroor voel, en wat hierdie winkeleienaars daarvan sou dink as die restaurante skielik aandenkingtjies en skilderye begin verkoop? Of maak dit in Cullinan nie saak nie?

Ek kom gereeld in Dullstroom – ook ‘n toeristebestemming. Daar is, wat my betref, ‘n baie groter verskeidenheid, en ook spesialisering – winkeleienaars oortree nie op mekaar se terreine nie, en water sodoende nie die aanbod af nie.

Daar is onder andere ‘n antiekwinkel wat spesialiseer in antieke meubels en breekware, ‘n kunsgalery wat net skilderye verkoop, ‘n klokwinkel wat net horlosies verkoop, ‘n ‘chocolatrie’ wat net sjokolade verkoop, ‘n paar tweedehandse boekwinkels wat net boeke verkoop (terloops, in Cullinan is daar nie eens een boekwinkel nie), ‘n ‘rock shop’ wat net kristalle en verwante objekte verkoop, ‘n kerswinkel wat net kerse verkoop.

Daar is selfs ’n ‘Christmas Shop’ wat net Kersfees-toebehore verkoop. Hier trap niemand op mekaar se tone nie; wat ‘n verfrissende ervaring – elke winkel is interessant en ‘n unieke ervaring in eie reg; terwyl ek Cullinan vervelig vind.

Daar is wel van die winkeltjies in Cullinan wat die uitsondering is op die reël van middelmatigheid – wat blykbaar in Cullinan geld – maar nie genoeg om my binnekort weer na Cullinan te lok nie.

Dit is jammer. Is daar niemand wat dinge beheer nie? Wat ‘n oog hou oor standaard en verskeidenheid nie? My besoek het my met gemengde gevoelens gelaat. Die plek het soveel potensiaal, dit is die ideale plek vir ‘n wegbreek; dit is naby genoeg aan Pretoria, Johannesburg en Bronkhorstspruit om ‘n daguitstappie moontlik te maak – ‘n wegkomkans van die stad se lawaai. Maar, bied dit nog werklik genoeg vir die toeris om die moeite en onkoste te regverdig?

Ek wonder maar net. Ek het net die behoefte gehad om my gevoelens hieroor te lug.

En dit is presies waaroor die Bronnie se brieweblad gaan: Dit is ‘n plek waar lesers hulle menings kan lug. Baie van die duisende besoekers aan Cullinan sal waarskynlik van dié mening verskil. Dit is jammer dat jy blykbaar dink dat Cullinan net uit die winkels in Oaklaan bestaan. – Red.

 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger