Skuimbesies laat dié boom huil Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 19 August 2019 20:40
Untitled Document

Hoekom sal ‘n huilboom dan nou huil? Dié boom staan as een van Afrika se reënbome bekend omdat daar in die lente soms water van sy takke af drup. Dié water kom egter nie direk uit die boom nie, maar uit klein onvolwasse insekte wat die jong lote se sap uitsuig.

Die skuimbesie, Ptyelus grossus, pak op die jong lote saam en verkry hulle voedsel uit dié sap. Hulle skei ‘n vloeistof, wat dié huil of reën veroorsaak, af terwyl hulle die sap inneem.

Die huilboom, Peltophorum africanum, word in Engels ‘African weeping wattle’ genoem en staan in Afrikaans ook as huilbos, huilwattel, wildewattel of dopperkiaat bekend.


Sade en loof
Foto: Dr Johann C Knobel

Blomme
Foto: Paul Venter

Sade
Foto: Dr Johann C Knobel

Blomknoppe
Foto: Paul Venter

Dié klein tot medium-grootte boom kan tot 10 meter hoog word en is dikwels twee- of driestammig by die basis vertak. Hy verkies bosryke grasveld en vleirande en lyk soos ‘n doringboom, maar dra geen dorings nie.

Die huilboom het varingagtige steunblare, wat ongeveer 10 mm lank is, aan die basisse van die blaarstele op die jong lote. Sy blomme, wat baie bye lok, bestaan uit heldergeel blomtakkies van tot 15 cm lank. Die boom dra ook peule van sowat 10 cm by 2 cm wat vir maande aan die boom bly.


Die huilboom
Foto: Wikipedia

Gebruike
Dié boom het baie gebruike: Vee vreet sy jong blare en peule; en sy blomme, met hulle groot hoeveelhede nektar en stuifmeel, is ideaal vir byeboerdery. Sy hout kan vir die maak van meubels en ornamente gebruik word en is ook goeie brandhout. Hy gooi boonop ‘n goeie skaduwee sodat vee en mense uit die hittige son kan ontsnap.

Verskeie medisinale gebruike is opgeteken. Sy wortels word gebruik om wonde, tandpyn en ’n seer keel te behandel. Vir ‘n seer keel word ‘n aftreksel gemaak wat gegorrel word. Sy wortels, blare en bas word tot ‘n fyn poeier gemaal om van parasiete in die derms ontslae te raak en om maagprobleme te behandel. Sy bas verlig koliek en sy stam en wortels word teen diarree en disenterie gebruik. Dit kan ook gebruik word om seer oë te behandel.


Hout
Foto: Paul Venter

Groei
Dit is relatief maklik om ’n huilboom te kweek. Plaas sy sade in warm water en laat oornag week. Saai in ‘n 5:1 mengsel van riviersand en kompos. Die plantjies ontkiem vinnig en kan met sukses in goed-gedreineerde grond uitgeplant word.

Die boom is droogte bestand, maar is gevoelig vir ryp in sy eerste drie jaar. Hy is ‘n gewilde bonsai-boompie.

 

© 2024 Die/The Bronberger