Raaisel van Njozi se ‘terugkeer’ onopgelos Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 21 May 2021 03:16
Untitled Document

’n Reuse soektog deur veldwagters, helikopters en veeartsenydienste is afgelas toe die vermiste Njozi, Rietvlei Natuurreservaat se luiperdwyfie, op Moedersdag binne-in die reservaat gevind is. Het sy self na die reservaat teruggekeer of het sy nooit ontsnap nie?

Daar is vroeër berig dat Njozi op 4 Mei uit die reservaat ontsnap het. Die eienaar van die aangrensende eiendom het Njozi glo gesien en het die reservaat dadelik in kennis gestel. Sy het glo onderdeur die heining gekruip op ’n plek waar ’n ystervark ’n gat gegrou het en is die nag van 5 Mei tussen Moonlightweg en die R21 gesien.


Njozi toe sy verlede jaar in die Rietvlei Natuurreservaat vrygelaat is
Foto: Garry Harris

Vincent van der Merwe van Die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT), wat deel was van Njozi se hervestigingsproses vanaf die Wes-Kaap op 27 Augustus verlede jaar, het berig dat die spore wat gevind is, dié van ’n bruin hiëna was.

Hy het gesê dat daar verslae was dat Njozi ontsnap het, maar geen werklike bewyse dat sy wel uit die reservaat gekom het nie. Vincent het aanvanklik bespiegel dat Njozi dalk in die reservaat doodgegaan het omdat sy vir ’n maand lank nie gesien is nie en niemand seker was waar sy haar bevind het nie. Haar opsporingshalsband het glo ophou werk.


Njozi is op 9 Mei in die reservaat afgeneem toe sy probeer het om ’n blesbok te vang
Foto: Verskaf

Njozi is as ’n skugter dier beskryf en sedert haar vrylating in die reservaat, het min besoekers haar te siene gekry.

Raadslid Dana Wannenburg van Stad Tshwane se Omgewing- en Landboubestuur het op 9 Mei aangekondig dat die ‘verlore’ Njozi daardie oggend in die reservaat afgeneem is toe sy probeer het om ’n blesbok te vang.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger