Steyn oorkom nóg ’n terugslag Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 21 May 2021 03:18
Untitled Document

Steyn Steenberg van Boschkop het op die ouderdom van 18 jaar al meer terugslae oorkom as wat die meeste mense in ’n leeftyd moet aandurf. Steyn, wat op 16 jaar sy been in ’n motorfietsongeluk verloor het, was in April in die hospitaal ná ’n epileptiese aanval. In Februarie het hy van ’n eerste verdieping afgeval en die grond kop-eerste getref en verlede jaar het hy Covid opgedoen.

In ‘Steyn sterk goed aan ná ongeluk wat gemeenskap aangryp’ het ons in Junie 2019 berig dat Steyn op Moedersdag, 12 Mei 2019, omtrent een kilometer vanaf Kitty Hawk met sy motorfiets teen ’n staalversperring gebots het. Al drie hoofslagare in sy linkerbeen is afgesny.

Albei sy longe het platgeval as ’n gevolg van gebreekte ribbes en impak op sy borskas. Hy het ook ’n ernstige fraktuur van die bekken, bloeding op die milt, ’n sny in die linker nier en gebreekte linker-gewrig gehad.

In die teater het hy twee keer ingegee en het die span dokters omtrent 30 minute gesukkel met resussitasie. Dit het later aan die lig gekom dat hy ligte beroertes in twee areas van die brein gehad het, wat sy spraak en sig aangetas het. Sy neuroloog het gewaarsku dat Steyn dalk later aan epilepsie mag ly.


Steyn in die hospitaal in April
Foto: ‘Steyn se storie’

Verras
Hy het almal egter verras, eerstens deur sy ongeluk te oorleef en daarna om die amputasie van sy been, asook sy spraak en visie-gebrek te aanvaar en te hanteer. Hy is ook deur ’n operasie om ’n pynlike neuroom, wat op een van sy geamputeerde senuwees ontwikkel het, uit te sny en hersiening op sy geamputeerde been te doen.

Steyn was die laaste twee kwartale van 2019 63 uit 100 dae uit die skool afwesig, maar het al sy vakke deurgekom. Toe kom 2020: Die hele Steenberg-gesin het Covid opgedoen, weer herstel en op NG Gemeente Tygerpoort se ‘Hoop’ reeks op YouTube het Steyn en sy pa, Jacques, daaroor gepraat.

Jacques skryf op die Facebook-blad, ‘Steyn se storie’, dat daar op 6 Februarie vanjaar teen een uur die oggend ’n oproep gekom het van ’n vriend van Steyn se ma om te sê dat sy Steyn Wilgers-hospitaal toe geneem het. Steyn het daar oorgeslaap en het van ’n eerste verdieping afgeval en die grond kop eerste getref. Hy het weggekom met ’n paar steke en harsingskudding.

Epilepsie
Die oggend 9.34 op 24 April het die Steenbergs nog ’n oproep ontvang van ’n vriend waar Steyn oorgeslaap het. Oor die foon kon Jacques hoor dat seuns paniekerig skree en hy moes hoor dat Steyn besig was om ’n epileptiese aanval te kry. Hy kon nie asem kry nie en was blou in die gesig.

Jacques sê dat die 20 minute jaagtog na die vriend se huis soos ’n ewigheid gevoel het. Steyn se sussie, Karla, het in die motor saam met Jacques gespring en sy ma, Christa, is hospitaal toe om die mediese personeel op Steyn se aankoms voor te berei.

Toe Jacques en Karla by die vriende se huis aankom, was Steyn reeds by sy bewussyn en kon asemhaal. By die hospitaal moes hulle Steyn help om te loop en ’n drup is aangesit om nog ’n aanval te verhoed. Toetse is gedoen en Steyn is opgeneem.

Jacques het op 26 April laat weet dat Steyn terug is by die huis. Hy moes sy neuroloog gaan sien vir verdere toetse. Verskeie faktore, soos medikasie wat hy gereeld gebruik, kon dalk ’n rol in die epileptiese aanval gespeel het. Steyn is vir die volgende drie jaar op voorkomende medikasie geplaas.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger