Tee en moerkoffie sorg vir vroue se deurbraak in sakewêreld Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 21 May 2021 03:22
Untitled Document

Angie Kleijn

Wie onthou Braganza-tee en Senator-moerkoffie? Dié twee lafenisse was die spil waarom die eerste openbare maatskappy opgerig deur Afrikaanse vroue, gedraai het. Die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke is op 22 April 1955 in die lewe geroep met meer as 10 000 vroue as aandeelhouers.

Dié stigting is op 22 April vanjaar by die FAK se Afrikaanse Liedjietuin gevier. Magdie de Kock, president van die Wêreldbond vir Plattelandse vroue, en Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Toekomstrust, het vroue by die geleentheid toegespreek.


Van links na regs: Margareta Lefébre le Roux; Gert Cornelis le Roux; Pieter Mattheus Kruger
(PK of Piet Blackie) le Roux; Emily Hobhouse (Hobbie) le Roux; en onbekend
Bron: geni.com; Le Roux-familiealbum deur Emily Hobhouse (Hobbie) Uys

Die FAK het Magdie en Dinah vereer vir hulle dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder waarna dié twee, saam met Marianda Schlebusch, koördineerder van die FAK-Kultuurnetwerke, elkeen ’n The Lady-roosboom geplant het.

“Ons herdenk vandag die visionêre en waagmoedige optrede van ’n groep Afrikaanse vroue wat geleef het in ’n tydperk toe vroue nie met vrymoedigheid toegang tot die Suid-Afrikaanse ekonomiese terrein gehad het nie,” het Magdie gesê.


Hobbie le Roux
Bron: geni.com; Le Roux-familiealbum deur Emily Hobhouse (Hobbie) Uys

Hoe het dit gebeur dat meer as 10 000 vroue, wat in die 1950’s grootliks huisvroue was, op so ’n manier kon saamstaan? Dié bemagtigingsprojek vir Afrikaner vroue is deur die filantroop en entrepreneur, dr Anton Rupert, op die been gebring.


Die blik lees aan die een kant “Braganza Teesakkies” en aan die ander kant, “From the House of Braganza”
Foto: bidorbuy.co.za


Die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke het in 1961 ook tot die kitskoffie-mark toegetree met Frisco-kitskoffie
Bron: Pinterest: Augi de Freitas

Hobbie
Die eerste voorsitster van dié landswye vroue-maatskappy was Hobbie le Roux van die De Rust-omgewing. Haar volle name was Emily Hobhouse le Roux en sy is op 14 Januarie 1906 op Vogelsang, De Rust gebore as een van die 12 kinders van Johannes Jurgens (bekend as Jurie De Rust) Schoeman en Anna Christina, ’n nooi Olivier.

Sy is in 1928, op die ouderdom van 22 jaar, getroud met Pieter Mattheus Kruger le Roux, wat as PK of Piet Blackie bekend gestaan het. Hy is op 11 November 1904 op die familieplaas, Doornkraal, De Rust gebore.


Die padstal op die familieplaas, Doornkraal
Bron: travelground.com

Hy het die bynaam Piet Blackie gekry oor sy blas vel. Die familiename is Pieter Mattheus, maar sy pa het so ’n groot bewondering vir Paul Kruger gehad, dat Kruger by sy name gevoeg is. Piet was ’n Nasionale Party LV vir Riversdal, Victoria-Wes en Oudtshoorn. Hy is ook verkies tot hoofsweep van die NP; vandaar sy seun se bynaam, Swepie.

Piet was van 1958 tot 1966 minister van landbou en minster van landbou-tegniese dienste en waterwese. Van 1967 tot 1972 was hy minister van binnelandse sake. Hy het in 1972 bedank, maar het as NP-LV aangebly tot met sy uittrede in 1978.


Koningin Catarina de Braganza, vrou van Charles II van Engeland
Bron: Wikipedia

Toe die hoofpad tussen De Rust en Uniondale nog digby Piet en Hobbie se plaaswerf verbygeloop het, het Hobbie ’n teekamer vir moeë reisigers daar bedryf. Dié padstal bestaan vandag nog buite De Rust en word Tante Maria se Stal genoem. Plaaslike wyne kan daar geproe word en ligte maaltye kan geniet word. Koffie en tee word natuurlik ook nog bedien.

Hobbie is op 13 Mei 1980, in die ouderdom van 74 jaar, in Kaapstad oorlede. Piet is op 23 Junie 1985 in die ouderdom van 80 jaar op Wildernis oorlede.


Magdie de Kock en Dinah Bronkhorst op 22 April in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin
Bron: FAK

Hobbie is as voorsitter opgevolg deur mev PK Morkel en die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke het in 1961 ook toegetree tot die kitskoffie-mark met Frisco-kitskoffie, wat dadelik ’n reuse sukses was. Hulle bekendste produk, Braganza-tee, is vandag een van die top produkte op die internasionale mark.


’n Colclough Braganza porselein koppie en piering
Bron: collectable-china.co.uk

Portugees
Dié tee is na die Portugese prinses Catarina de Braganza, wat die teedrinkgewoonte na Brittanje ingevoer het, vernoem. Nee, die Britte het nie altyd tee gedrink nie. Prinses Catherina het in 1662 twee pond tee as geskenk vir haar toekomstige man, koning Charles II van Engeland, saamgeneem.

Die teeplant, Camellia sinensis, kom uit ’n streek wat vandag as die suidweste van Sjina, Tibet, die noordelike deel van Mianmar en die noordooste van Indië bekend is. Portugese priesters en handelaars was in die 16e eeu die eerstes wat tee aan Europeërs bekendgestel het.

Catarina was die dogter van koning John IV van Portugal, wat in 1640 ná die omverwerping van die 60-jaar-lange heerskappy van die Spaanse Habsburgs oor Portugal, die eerste koning van die Huis van Braganza geword het. Hy het die Portugese troon, wat in 1143 geskep is, in ere herstel.


Piet Blackie en Hobbie le Roux
Bron: geni.com; Le Roux-familiealbum deur Emily Hobhouse
(Hobbie) Uys

.
.
.
.
.


Piet Blackie en Hobbie le Roux met ’n afskeidsgeskenk aangebied deur sekretaris en personeel aan sy edele minister PMK le Roux met die afskeidsfunksie op 10 Junie 1966 in Pretoria as blyk van waardering vir sy ampstermyn as minister van waterwese
Bron: geni.com; Le Roux-familiealbum deur Emily Hobhouse
(Hobbie) Uys

Knap na Catarina se troue met Charles II het sy Braganza-tee aan haar aristokratiese vriendinne begin bedien en in Londen het dit gou mode geword om middag-tee te drink. Catarina de Braganza was koningin van Engeland, Skotland en Ierland van 1662 tot 1685. Sy het in 1701, met haar broer se afwesigheid, as heerser van Portugal gedien en weer tussen 1704 en 1705 met haar terugkeer na Portugal as weduwee.

In Catarina se tyd was tee peperduur en daar is wyd met tee gesmokkel, iets wat teedrink vir die man op straat bekostigbaar gemaak het. Eintlik besef min mense dat die gewildheid van tee ’n groot rol in historiese gebeure gespeel het.


’n Braganza-teepot
Bron: ebay.co.uk
.
.
.


Senator-moerkoffie is tipies in ’n koffiekan gemaak met ’n linnesakkie aan ’n ronde draadhouertjie onder die deksel. Jy kon dit in koekblikke koop, wat later vir beskuit en padkos gebruik is
Foto: YUM eat cafe

Die Britse regering het besluit om die belasting op tee te verwyder en die Tee Wet van 1773 se doel was om wettige tee goedkoper te maak as die onwettige tee, wat na die Britte se Noord-Amerikaanse kolonies gesmokkel is. Bykans 86% van alle tee in Amerika in daardie tyd was Hollandse tee uit die smokkelbedryf.

Die smokkelbedryf is teen 1785 tot ’n einde gebring, maar die Tee Wet het die stigting van die ‘Boston Tea Party’, ’n Amerikaanse politiese en handelsvereniging protes, tot gevolg gehad wat uiteindelik na die Amerikaanse Revolusie gelei het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger