Ons vind die kuier en kos verfrissend anders by Urban Fields Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 18 June 2021 05:48
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dis winter in Tierpoort se ge-ooste en die weer, dit was bitterlik koud – ‘tralala’. Sommer baie beter met ons aankoms as dié Sondagoggend agtuur se -5 grade C, sê Tania wat die nuwe aankoop- en kuierplek, Urban Fields, help bedryf.

Tania is die dogter van wyle Joanne en Tommie Weichelt, wat jare lank ‘Bakkieland’ op dié hoewe gehad het. Die kinders Rolf en Tania en hulle aanhangsels het die plek baie kunstig en doeltreffend omskep in ’n ‘organiese kruidenierswinkel’ en ’n lekker landelike kuierplek.

Binne bak, kook en brou dit en sit groepies klante gemaklik en gemoedelik by tafels en klets-koffie-en-eet. Jy kan ook agter die ou omskepte motorskuur in die tuin aansit, maar vandag sou dit effe dwaas van jou wees. ’n Lekker kaggelvuur help binne teen die winter en met die geselligheid. Die musiek is rustig en in die agtergrond – waar dit hoort.


My ‘volstruiskonyn’ met bykosse en ’n pepersous

Urban Fields verkoop bokmelk en vervaardig en verkoop onder, heelwat meer, vakmanskaas (artisanal), suurdeeg-brood van wyd uiteenlopende aard en oorsprong, organiese groente, vars heuning, ingelegde amper-alles, ‘rondloop-eiers’ en gerookte vleise en gebakte koeke om van te droom.

En gepraat van vleis: Bykans almal weet seker teen dié tyd dat Metgesel uit vrye wil nie soogdiere eet nie. So gebeur dit toevallig die heel eerste keer in Vreethans-heugenis dat ons by ’n kuierplek inval wat op dié dag nie enige gereg van naastenby enige soogdierlike aard op die spyskaart aan te bied het nie. Metgesel se sewende hemel, sou jy kon sê.

Rolf het ’n hele aantal jare in Swellendam se wêreld met volstruis geboer. Daarom nie vreemd nie dat volstruis-geregte saam met hoender (organies natuurlik) vandag volop is. Die naaste aan ’n soogdier op vandag se spyskaarte is tuna.


Dié volstruis-burger op panini het Metgesel breed laat glimlag

Twee spyskaarte is met bordkryt op swartborde gegriffel. Die een is ’n spesiale gesin-spyskaart vir die dag. Jy moet bespreek en jou eie wyn bring – iets wat jy in elk geval moet doen, sou jy wyn bokant koffie verkies. Die koffie-spyskaart op sigself is ’n lywige gedoente waar elke denkbare verbuiging van koffie en dalk ’n paar ondenkbares daarby te bestel is. Maar ek dwaal.

Een van die keuses op die gesin-spyskaart vir die dag (julle moet ’n minimum van vier wees) is ’n heel gerookte, geroosterde hoender, slaaie, gebakte aartappel, paninis en souse. Dit kos R280 vir vier. Nog twee keuses word gebied, maar weens plekgebrek volstaan ons. Nagereg van tiramisu en ’n verskeidenheid gebakte koek kos R180 vir vier.


Hier word ontspan, gewerk en gekuier

Die meer omvattende spyskaart is ‘anders’ en erg interessant – veral vir iemand soos Metgesel. Die een ontbyt-verbuiging is byvoorbeeld: Eiers, spek (a-ha, maar nee, nie uitgevang nie want dis volstruis-spek of ‘ostrich bacon’ dan), haloumi, tamatie, sampioene en panini-brood met konfyt. Dit kos R75.

Voorgereg is onder meer gerookte volstruis carpaccio teen R60. Die res van die spyskaart is, in ’n neutedop, pizza en panini waar jy jou eie bybehore kan kies. Daar is ’n verskeidenheid slaaie (ook van hoender en tuna), sop en panini, ’n Mediterreense deelbord, pita met gerookte hoender en tzatziki, hoenderpastei met slaai (R55) en nog wat. Alles blyk prysgewys billik te wees.  
Metgesel besluit op ’n vierkantige volstruis-burger met gerookte plat volstruis-frikkadel op panini-brood saam met gebakte aartappelwiggies. Breed was haar glimlag en sy had rede. Ek het geproe. Dit kos R85.


’n Blik op die organiese kruidenierswinkel

My gereg weeg die swaarste op die sak in en sorg vir ’n lekker kopkrap-gesprek. Ek bestel volstruis ‘fillet’ met pepersous, spinasie, botterskorsie en aartappelwiggies. Nou is dit so dat daardie snit, as dit van ’n bees afkomstig is, bekend staan as ’n beeshaas. Hoe nou gemaak? Jy kan tog nie van ’n volstruisbeeshaas praat nie, net so min kan jy byvoorbeeld van ’n haasbeeshaas praat. Ons volstaan eindelik met Metgesel se voorstel en besluit ons noem dit ’n volstruiskonyn. Lekker op die oor en baie lekker op die tong was my volstruiskonyn en bykosse teen R170.

Urban Fields is ’n lekker plek met lekker mense, ’n lekker landelike atmosfeer, lekker (effe anderste) kos, kruideniersware en gebak. Jy kan hulle bel by 083-470-5762.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger