Paul Jungnickel se graf herontdek in Zwavelpoort Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 18 June 2021 05:49
Untitled Document

Angie Kleijn

Paul Jungnickel, na wie die tehuis waaruit Kungwini Welsynsorganisasie gebore is vernoem is, se graf is op 22 Mei herontdek met die skoonmaak van ’n plaasbegraafplasie op Zwavelpoort.

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se Noord-Transvaaltak het die Zwavelpoortse JH (Hans) Smit begraafplaas op Saterdag 22 Mei gaan skoonmaak. Oosie Oosthuizen, die GGSA-lid belas met begraafplase, vertel dat iemand vir Riana le Roux, wat op Baberton woon en verantwoordelik is vir die byhou van alle begraafplase op die genootskap se webwerf, eGGSA, inligting oor die begraafplaas op Zwavelpoort gestuur het.

“Ons het die begraafplaas gaan soek, dit skoongemaak en die foto’s geneem nadat ons toestemming van die grondeienaar gekry het,” sê Oosie. Die begraafplaas se uitdraaipad is net wes van Riverside Castle op Lynnwoodweg-verlenging.


Dié foto van Paul Jungnickel het in die Noord-Transvaalse Kreupelsorg se jaarverslag van 1983/84 verskyn

“Na die goeie reënseisoen het die onkruid skouerhoogte gestaan. Net hier en daar het ’n kopstuk uitgesteek. Nege van ons lede het vinnig aan die werk gespring om die terrein skoon te maak, die kopstukke te was, die letters duidelik te maak en die foto’s te neem. Na alles was daar darem nog tyd vir ’n piekniek in die bos.”

“In die begraafplaas is daar ook ’n groot hoop klippe tussen die grafte. Ek sal graag wil weet wat dit is,” sê Oosie, wat gedink het hy moet vir Ian Whitfield vra, wat in die plaashuis net ná Riverside Bush Baby woon. Ons verneem dat Ian se oorlede vrou ’n lid van die families van destyds was. Oosie kon nie met Ian gaan gesels nie, omdat hy in die hospitaal was.


Agter: Wilhelm Bernhardt, Eddie Otte, Oosie Oosthuizen (organiseerder), Henry Northall en Wietz Beukes. Voor: Annemarie Dreyer, Isabel Bosman en Gerhard van der Linde
Foto: Theo Bernhardt

Paul
Oosie het die foto van Paul Jungnickel, wat op 18-jarige ouderdom dood is, se graf in dié begraafplaas vir Die Bronberger gestuur. Paul was die seun van Arrie en Elsa Jungnickel, wat wes van die hedendaagse steengroef teen die Bronberg, gewoon het.

Paul is met misvormde voete gebore. Hy was by die Pretoriase Skool vir Serebraalgestremdes tot hy agt jaar oud was en is daarna Laerskool Tygerpoort toe. Op 14 jaar is hy na die Pretoriase Afrikaanse Hoërskool en is ’n jaar later na Menlopark Hoërskool oorgeplaas.


Paul Jungnickel se graf lees: 20.2.48 tot 15.7.65
Foto: Oosie Oosthuizen

Paul is op 15 Julie 1965 dood ná ’n motorfietsongeluk. Hy was nog op skool en het saam met ’n maat op ’n motorfiets gery. Hulle het ’n ongeluk gehad en Paul is agter die motorfiets aangesleep.
Paul se dood het sy ma gebreek. Arrie en Elsa het besluit om hulle plot aan die destydse Noord-Transvaalse Kreupelsorg te skenk. Al wat hulle uit die plot wou hê is lewensreg op hulle woonhuis.

Die proses het glo baie jare lank gesloer omdat Kreupelsorg nie ’n verband kon laat registreer om die tehuis te begin bou, terwyl daar lewensreg op die Jungnickels se naam was nie. Die grond is later jare in twee verdeel, met die huis op die boonste deel teen die Bronberg en die tehuis onder aan Lynnwoodweg-verlenging.


Die onkruid by die plaasbegraafplaas het skouerhoogte gestaan
Foto: Oosie Oosthuizen

Bou
Die Paul Jungnickelhuis vir volwasse gestremdes is uiteindelik in 1983 gebou. Oor die jare het Elsa al hoe meer agteruit gegaan en dit was haar hartewens dat sy voor haar sterfte die tehuis wat hulle seun se naam sou dra, klaar gebou kon sien.

Arrie het Elsa een dag op die stoep van hulle huis uitgestoot om te kyk hoe die bouery vorder.
Die tehuis was toe so teen vensterhoogte en Elsa is knap daarna oorlede – vermoedelik aan ’n hartaanval.


Die skoonmaakproses
Foto: Oosie Oosthuizen

Arrie is later weer getroud met Kosie Muller. Toe hy oorlede is, het Kosie met ’n Van der Walt getrou. Kosie se dogter, Louise Muller wat lank by die Bronbergbewaringsvereniging betrokke was, het tot ongeveer 2005 in die huis gebly.

Nadat Louise en haar gesin uitgetrek het, het die huis leeg gestaan en is tot so ’n mate gestroop dat dit so twee of drie jaar gelede in mekaar getuimel het. Mense in die omgewing was bly toe dit gebeur het, omdat die leë huis glo ’n skelm-nes was.


JH (Hans) Smit Private Begraafplaas
Foto: Oosie Oosthuizen

Welsyn
Paul Jungnickelhuis het in April 1996 ’n onafhanklike welsynsorganisasie geword met geen oorkoepelende organisasie wat aan hulle ondersteuning bied nie. In 1998 het die organisasie, in samewerking met die Departement van Gesondheid, ’n primêre gesondheidskliniek daar geopen.

Later is ’n verskeidenheid gemeenskapsontwikkelingsprogramme van stapel gestuur, soos dagsorgsentrums, maatskaplike dienste, beroepsvoorligting vir mense met gestremdheid, programme om vaardighede aan te leer, werkskeppingsprogramme, berading, ondersteuningsdienste en ’n selfhelpgroep vir bejaardes.


Piekniek word in die bos gehou ná die skoonmaakaksie
Foto: Oosie Oosthuizen

Omdat daar so ’n wye reeks dienste aangebied word, is besluit om ’n oorkoepelende organisasie te stig wat meer verteenwoordigend van al dié dienste sou wees en so is Kungwini Welsynsorganisasie op 8 Junie 2002 gebore.

Die GGSA se Noord-Transvaaltak is altyd op soek na plaasbegraafplase en grafte in ons omgewing. Belangstellendes kan Oosie Oosthuizen kontak: 082-560-5330 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger