Gedenktekens help slagveld teen mynbou beskerm Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 18 June 2021 05:51
Untitled Document

Drie gedenktekens, die sogenaamde ‘Blue Plaques’ met internasionale reikwydte, wys dat Boer en Brit meer as ’n eeu ná die Anglo-Boere-oorlogse Slag van Donkerhoek, of Slag van Diamond Hill saamstaan om die historiese slagveld teen mynbou te beskerm.

Dié gedenktekens is op 12 Junie op die 121ste viering van die veldslag by Galagos Landgoed op Donkerhoek onthul in ’n seremonie met die tema ‘versoening’.

In ‘Historiese skatte in gebied deur mynbou bedreig’ het ons in Oktober 2020 berig dat van die grondeienaars op dié slagveld kennisgewings gekry het dat daar op hulle grond vir silika gemyn gaan word. Mynbou sal die verskansings, wat sedert 1900 reeds bewaar word, vernietig.


Rob Milne saam met grondeienaars Hannelie en Albie van Jaarsveld, wat een van die gedenktekens onthul het

Die Bronberger het verlede jaar kontak gemaak met slagveldkenner, Rob Milne, wat dié voorheen onverkende deel van die slagveld op Rhenosterfontein begin besoek het. Op 16 Desember het hy Morskop en verskansings op Diamond Hill vir die eerste keer besoek saam met Die Bronberger, grondeienaars Koos en Maryke Botha en Hannelie en Albie van Jaarsveld en belanghebbendes.

Rob vertel dat dié bedreigde deel van die slagveld van enorme historiese belang is omdat dit is waar die grootste deel van die aksie plaasgevind het. Dit is die deel waar Winston Churchill, wat toe ’n jong oorlogskorrespondent was, op 12 Junie ’n onbewaakte kloof ontdek het en die pad vorentoe vir generaal Ian Hamilton aangedui het.


Rob Milne vertel van sy ontdekkings op die voorheen onverkende deel van die slagveld

Die dag voor dit, op 11 Junie, het David Stanley William Drummond Ogilvy (1856–1900), die elfde graaf van Airlie, aan die voorpunt van sy regiment, die 12de Lansers, naby die onderkant van die rif op Rietvlei gesneuwel ná hy die laaste tradisionele ruiteraanval in die Britse weermag se geskiedenis, gelei het.

Afstammelinge van dié Skotse graaf het as belanghebbende partye in die openbare deelnameproses van die beoogde silika-mynboubedrywighede op die slagveld geregistreer. Met die onthulling van die gedenktekens is ’n video-boodskap van die 95-jarige huidige graaf van Airlie gespeel. Daarin het hy onthul dat sy oupa ’n voorgevoel gehad het dat hy gaan sneuwel en gevra het dat sy liggaam nie terug Skotland toe verskeep moet word nie: “Waar ’n boom val, daar moet hy lê.”

’n Spook-tromslaner, wat by ’n toring van die 14e eeuse Cortachy-kasteel in Skotland afgegooi is, slaan glo eeue lank al sy tromme op die vooraand van ’n graaf se dood en dit is wat die Boeremagte op 10 Junie 1900 op Diamond Hill gehoor het.


Nigel Naylor by die drie onthulde gedenktekens en blommekranse

Die huidige graaf vertel dat sy oupa groot bewondering vir die Boeremagte gehad het. “Ek hou van die Boere en is baie trots om teen hulle te veg,” het hy geskryf. Ek glo dat hulle absoluut wonderlike soldate is en glo dat, as hulle bajonette gehad het, hulle bykans onoorwinlik in die land sou wees.”

Die seremoniemeester by die onthulling was Dominic Hoole, visevoorsitter van die artellerisvereniging. Rob Milne het ’n aanbieding oor die slag gedoen en Nigel Naylor het ’n praatjie oor die betekenis van die gedenktekens en versoening gelewer.

Die middag het gaste die Kleinfonteinse militêre begraafplaas besoek en ’n krans by die graaf van Airlie se graf gelê voor hulle oor die slagveldterrein na die rif geloop het om ’n krans by die Boere-gedenkteken te lê.


Dominic Hoole by die beeldmateriaal van die Skotse kasteel

Die Slag van Diamond Hill het op ’n verdedigingslyn van 40 km, honderde verskansings nagelaat. Generaal Louis Botha het tussen 5 en 10 Junie verdedigingsposisies op die Magaliesberg, tussen Kameelfontein in die noorde (naby Roodeplaatdam) tot by Witfontein in die suid-ooste, ingeneem om die pad en die spoorlyn na die ooste te blokkeer.

Veldmaarskalk Roberts het op 11 en 12 Junie aangeval met generaal French en die berede soldate in die noorde en die hoofdeel van die leër vanaf Donkerpoort suidwaarts. Die Britte se aantog is laat in die middag van 12 Junie op die tweede, hoër rif op Rhenosterfontein gekeer. Hulle kon nie deur die Boere se verdedigingslyn tussen Rietvlei en Rhenosterfontein kom nie. Generaal Botha het besluit om sy magte te spaar vir die volgende slag en het in die nag van 12/13 Junie na die ooste terug geval. Hy was suksesvol daarin om die Britte se oostelike aanslag met 40 dae te vertraag.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger