Grootkwê, Ma Kwê en die kwêkereltjies Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 16 July 2021 07:05
Untitled Document

Runa-Marie Jonker van Tierpoort

Vier kwêvoëls sit in ’n dooie boom in ’n boomryke tuin aan die agterkant van mense se blyplek.

Kwêkêreltjie vra: “Ma, vertel ons weer – hoe het dit gebeur dat ons hier kom bly het?” Ma Kwê skuif haar reg op die dooie boomtak en kyk af na die plankieplatvorm waar appels aan die dooie boom vasgespyker is.

“Wel,” begin sy, “dit was al ’n tyd lank wat ek bemerk het die mens-vrou sit in die winter allerhande eetgoed hier neer. Hier is ook dwarsdeur die jaar ’n bak skoon water onder ’n suurlemoenboom, waar ons geveerdes elke dag ons dors kan les en ook lekker kan bad.”

Kwêkie sê half ongeduldig: “Ja, maar hoe het Ma en die mens-vrou begin gesels en hoekom is Ma, en nou ons ook, nie bang vir haar nie?”

Ma Kwê dink en sê dan: “Ek onthou in die winter verlede jaar dat die mens-vrou besig was om mensvere oor ’n draad op te hang, so twee meter vanaf die waterbak. Ek het op ’n muur gaan sit en haar vol in die oë gekyk en toe sê sy: ‘Hallo Kwê.’ Ek het sommer geweet ek is veilig en het na die waterbak afgevlieg en tydsaam my dors geles.”

“Daarna het sy byna elke dag na my geroep met “Kwê, hier is kos!” of as sy laat was, het ek haar uit ’n boom geroep of oor die blyplek gevlieg en deur die groot stuk glas gekyk.”


Kwê in haar boom

Kwê loer onderlangs na haar man, Grootkwê, om te sien of hy nog luister. Sy gaan dan aan met haar storie. “Wel, na ’n tyd het julle pa by my aangesluit en ons het saam water gedrink en gebad en ook gaan eet by ‘ons’ boom.”

“Eendag het ek die mens-vrou aan haar mens-man hoor sê: ‘Die kleiner voël is ’n wyfie.’ Dit is nou ek. Ek het natuurlik al die tyd geweet ek is ’n wyfie maar duidelik het húlle nie – sy moes dit eers in ’n boek gaan lees. Toe julle twee uitbroei, was ons baie bly en het julle gereeld gevoer.”

“Die mens-vrou sit in die winter spesiale saadkos, gebreekte mielies, broodkorsies, deurgesnyde lemoene en appels en ander kossies neer vir ons geveerdes. Ons geveerde vriendekring het baie uitgebrei en ek het die mense dikwels met sulke ronde goed voor hulle oë gesien rondstaan en ook soms die mens-vrou met een lang ronde ding wat kort-kort ‘klik, klik, klik’ maak.

Ek het haar eendag hoor sê dat hulle al so baie soorte geveerdes hier by hulle blyplek gesien het en so dankbaar is vir die baie plesier wat die geveerdes aan hulle verskaf – veral noudat hulle nie meer oral oor ons land mag rondry nie.

Kwê kyk peinsend om haar en sê na ’n ruk: “Dit is hoekom ons hier bly. Ek en die mens-vrou verstaan mekaar, want ons praat dieselfde taal – die taal van liefde en omgee.”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger