Historiese hospitaal word psigiatriese kliniek Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 16 July 2021 07:06
Untitled Document

Cullinan se historiese hospitaal, wat ’n hele paar jaar lank leeg gestaan het, het onlangs sy deure as ’n psigiatriese kliniek, die Clinix Cullinan Wellness Hospitaal, oopgemaak.

Die hospitaal is in 1907 deur die Premiermyn gebou en die hoeksteen van die Premiermyn Hospitaal is deur Thomas Cullinan se vrou Annie gelê. In die Tweede Wêreldoorlog is die hospitaal deur die weermag oorgeneem en daar is ’n SA Mediese Korps-monument op die perseel.


Die hospitaal-gebou

Clinix Gesondheidsgroep het dié 35-bed hospitaal in Oktober 2010 oorgeneem. Hulle het die hospitaal op 30 Maart 2013 gesluit en volgens die hospitaal se destydse bemarkingsbestuurder, Portia Moshokwa, is alle toerusting die volgende dag uit die hospitaal verwyder. Sy het toe gesê dat niemand geweet het wat met die gebou sou gebeur nie.

Fanus van Huyssteen, wat toe direkteur van Cullinan Gesondheidsdienste en hoof uitvoerende beampte van die Clinix Gesondheidsgroep was, het gesê dat die groep nie met ’n lewensvatbare plan vorendag kon kom om die hospitaal van sluiting te red nie.


Die hospitaal in 1908
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

Die sluitingsbesluit is glo destyds geneem omdat die verdere kapitale belegging wat nodig was om die ou gebou en verwante infrastruktuur op te gradeer, nie die volhoubaarheid van die hospitaal sou verseker nie.

In September 2015 het ons berig dat Clinix besluit het om die gebou nie meer te verkoop nie. Volgens Etienne Coetzee, wat toe president van die Cullinan-Kamer van Koophandel was, sou die gebou nie weer ’n volle hospitaal wees nie, maar waarskynlik ’n kliniek of trauma-eenheid. Die Kamer het dié proses destyds aangemoedig en oor die jare was daar allerhande gerugte dat die ou hospitaal in ’n gastehuis omskep sou word. Intussen was die perseel met sy verlate leë geboue en losstaande lykshuis vir ’n tyd lank een van Mark Rose-Christie se Cullinan-spooktoer-bestemmings.


Die SA Mediese Korps monument op die hospitaal-perseel
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

Volgens Clinix is Cullinan Wellness Hospitaal in Hospitaalweg 1 nou ’n vrywillige, private psigiatriese hospitaal in “vintage”-styl, omring deur bekoorlike tuine.

Pasiënte kry onder andere behandeling vir: Depressie, bipolêre gemoedsteurnis, aanpassingsprobleme, post-traumatiese stres, angs, slaapprobleme, neurokognitiewe afwykings, dementia en psigiatriese toestande wat met algemene mediese toestande en die gebruik van middels verband hou.


In die Tweede Wêreldoorlog het die weermag die hospitaal oorgeneem
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

Rehabilitasiedienste wat aangebied word sluit in: psigiatrie, sielkunde, maatskaplike werk, berading en arbeidsterapie. Die hospitaalbestuurder is Lara Oguntimirin.

Die Clinix Gesondheidsgroep is in 1992 gestig en besit en bestuur sewe ander hospitale met omtrent 2 600 mense wat daagliks in die hospitale werk.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger