Vreethans op kort nostalgiese reis ná 19 jaar Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 17 September 2021 07:41
Untitled Document

Hoe op hierdie liewe aarde stel jy (in kort) ’n oorsig saam wat strek oor 19 jaar en ver verby die 200 besoeke van Vreethans en Metgesel aan kuierplekke in Bronbergland? Jy kan nie. Maar ‘dink aan iets’, is die ou knol van ’n redakteur se oplossing. Dis tradisie.

Nou goed dan só. Maar ek besluit om dié tradisie effe te verbuig en sonder ’n bepaalde tema voor die oë, sommer op ’n kort nostalgiese reis te vertrek: Om net enkele uitsonderlike mense, plekke, geure en gebeure weer in die geheue op te roep. Om dit lukraak te doen en kronologie by die agterdeur uit te vee.


Nikos

’n Gedigte-aand by Nikos met ‘n jong akteur Pierre Breytenbach, deesdae te sien in ‘Getroud met Rugby’, voor die mikrofoon. Pierre is Wyle Nico en Lynette Bryetenbach  se oudste seun.
 
Die heel eerste verslag wat Vreethans en Metgesel in die heel eerste uitgawe van September 2002 gedoen het, was ná ’n besoek aan Nikos op Zwavelpoort. Wyle Nico en sy geliefde weduwee Lynette Breytenbach (sy is terloops vandag in beheer by die Klubhuis Restaurant van Kitty Hawk) se plek was ’n gewilde saamkuier-plek vir die gebied se mense.

Dit is hier waar Die Bronberger se poësie-aande posgevat en gewild geword het. Karakters soos Geel Harry Lindtveld, Kobus Hoender en ander het ons probeer oortuig om dit eerder ‘gedigte-aande’ te noem en het breedvoerig hulle redes hiervoor uiteengesit.

Dit is ook hier waar wyle Nico die ‘Karnivore-klub’ gevestig het. Rou vleis is op verbeeldingryke wyses voorgesit en eksperimente is breedvoerig gedoen, sonder dat iemand juis destyds iets van Carpaccio en nog wat geweet het.

Bronberg Lodge

Oorlede Faan Smuts het ’n skaapkop geken

Later is die poësie-aande by oorlede ou Faan Smuts se grasdakplek, Bronberg Lodge, voortgesit en die speelgroepie van Nikos het ’n nuwe uitspanplek gekry. Dis ook hier waar die buitengewone voorreg Vreethans te beurt geval het om volwaardige lid van die SA Skaapkopgilde te word.

Ek onthou ook die voorval ná Vreethans oor die plek en sy tradisionele kos verslag gedoen het, toe omgekrapte inspekteurs van die DBV by Faan opgeruk het om ’n klagte te ondersoek dat hier ‘skilpadjies’ aangehou en gaargemaak word.

Formosa

Jurita en Ella Lösch

Tog opvallend – as ek nou in die geheue terug delf is dit telkens ’n landelike, plattelandse kuierplek wat die onthou-goed oplewer. Ek onthou toenterjare se knuppeldik-dae toe ons Sondae by Ella en Jurita se Formosa op Bashewa gaan aansit het.

Hier het ek geleer dat grootvreet en kuier op die platteland hand-aan-hand loop en dat ’n mengsel van kapokaartappels en wit rys perfek onder ’n kookvleis en bruinsous kan loop lê.

Zonked Guiney Fowl

Die grasdakgebou wat oorspronklik die Zonked Guiney Fowl gehuisves het

Wyle Eddie en sy vrou Karin Saffy, wat nog op ‘Plotville’ woon, se twee kuierplekke op hulle Tierpoortplot is genoem: Pheasant’s Nest en The Zonked Guiney Fowl. ’n Brand het langs die pad klaargespeel met Pheasant’s Nest, maar die Zonked Guiney Fowl het met die jare saam onder verskillende huurders, eienaars en name bly voortlewe.

Dit is hier wat ons iewers langs die pad van die aangenaamste seekos (garnale ook ja) ooit geniet het en later uitgevind het die sjef is ’n Mosambieker. Van daardie dag af, maak ek ’n punt daarvan om vas te stel of die ou wat die seekos maak, van Mosambiekse afkoms is.

Urban Fields

’n Vreemdsoortige, vierkantige volstruisburger op Panini

Deesdae het ’n andersoortige kuierplek skuins oorkant Karin se plek ontstaan. Waar wyle Tommie en Joanne destyds Bakkieland bedryf het, het hulle kinders nou Urban Fields op die been gebring.

Onlangs het ek en Metgesel daar loop draai en uitsonderlik anders was die vierkantige volstruis burger op Panini brood wat Metgesel aldaar, en sy kan sweer nêrens anders in die ganse wêreld nie, kon beproef.

Broodblik en Koffiepit

’n Baie spesiale familiesaak neffens die pad na Petit

Ook erg ongewoon is die plek anderkant Bapsfontein met die naam van Broodblik en Koffiepit. Te lanklaas was ons by dié uitsonderlike gesinsaak. Een van die baie spesiale bederfies wat ek daar in die plek se tuin vir die eerste keer in donkiejare geniet het, was boerbrood met varkspek en tuisgemaakte konfyt.

My ouma het ons kindertyd hiermee bederf. Die gasvryheid en bak- en kook-vaardighede van dié gesin en hulle geskiedkundige plek neffens die pad na Petit, is ’n belewenis.

Lientjie

Lientjie Wessels en haar wyle man Robert Denton

Ons het die eerste keer met Lientjie Wessels se uitsonderlike en kunstige kook-vernuf te doen gekry toe sy en haar oorlede man, Robert Denton, ’n kuierplek met die naam van Albizia op Cullinan bedryf het. Dit was in Oktober 2011.

Toe het Vreethans oor Lientjie gesê: “Dis duidelik dat Lientjie nie juis een vir die konvensionele is nie. Met my oog op die handgeskrewe spyskaart dink ek so by myselwers dat sy ’n dapper kok is. Een wat nie bang is om smaakkombinasies en bestanddele te toets en te trou nie.”

Vandag is Lientjie landwyd bekend weens kos- en kookprogramme op TV, haar kookboek genaamd ‘Geure’ en die spesiale etes wat sy deesdae van tyd-tot-tyd by haar woonplek naby die dorp se ou stasie aanbied. Altyd eksperimenteel: Altyd anders.

Ons onthou goeie en lekker kuiers en verassings-kos saam met Lientjie en wyle Robert en ons verlang.

Boskombuis

Langs die oop vuur in Boskombuis se lapa

Die Boskombuis: Die naam is genoeg om jou tot die besef te bring dat jy hier met ’n eg landelike kuierplek te make het. Ons het die eerste keer op ’n koue Junie-oggend in 2013 toevallig met die kombuis in die bos kennis gemaak, en was sedertdien ’n hele paar keer terug om goeie rede.

Daardie eerste besoek het ons by ’n oop vuur in die lapa aangesit vir ’n oordadige ontbyt en ons het dit geniet. Die mense is gemoedelik en jy voel jou maklik tuis. Die grootste rede vir ons herbesoeke aan die plek op die pad na Kleinfontein, as jy afdraai vanaf die pad tussen Kaalfontein en Kameelzynkraal, is afval. Eintlik my partydigheid vir afval. By dié Boskombuis kán hulle ’n kerrieafval maak en daarby ander tradisionele geregte ook.

Rafters

Joe en Joan Duarte aan’t dans in die oorspronklike Rafters

Ek onthou baie jare gelede se kuierplek-kruip saam met Joe en Joan Duarte, wat die oorspronklike Rafters begin het. Gewapen met ’n nugter bestuurder het ons op daardie dag seker goed meer as ’n dosyn plekke in die gebied ingewerk.

By een het ons (waar nou weer?) ’n maaltyd genuttig. Een van die lekker plattelandse aandoen-plekke op daardie epiese dag, was Die Hoek, wat nog getrou sake op Kaalfontein doen.


Die Hoek met Theunetta aan stuur van sake was toentertyd een van ons stilhouplekke

Soos vermeld kan jy nie ná soveel jare werklik ’n oorsig gee oor al die aangenaamhede (en aardighede) wat 19 jaar se kuier in ons kontrei met hom saambring nie. Ek onthou daar doer in die begin ’n outjie in die dieper dorp wat ons uit sy plek gejaag het, oor ons sy spyskaart afgeneem het en na geen raad of rede wou luister nie. Spioene, was ons in sy oë en basta.

Dit verdien, ten laaste en ten sterkste, hier en oral vermeld te word dat die mense wat deur dié kuiergestremde ‘kouwit-tyd’ met volharding, mensemoed en verbeeldingskrag die kuierkultuur van ons gebied lewendig hou, bedank en ondersteun behoort te word.

 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger