Skotse Dinamite Jack, die meester trein-saboteur, sterf armlastig Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 September 2021 07:43
Untitled Document

Angie Kleijn

Die berugte Dinamite Jack, ’n Skotse treinvernieler wat in die Engelse Oorlog aan Boerekant geveg het, was volgens Lord Kitchener die ‘Boer’ wat vir hom meer probleme as enige iemand anders veroorsaak het. ’n Medalje vir dapperheid het sy naam gedra lank ná sy verhaal in uiterse armoede, pyn, lyding en dood in Pretoriase hospitaal geëindig het.

Oliver John (Jack) Hindon is op 20 April 1874 in Stirling, Skotland gebore. Sy ma was ’n kinderbruid wat met ’n Britse weermag-veteraan getroud was. Jack het een suster, Margaret, gehad en die gesin het gereeld getrek.

Soos sy pa, het Jack as 14-jarige seun by die Britse weermag aangesluit. Hy is na Zoeloeland gestuur as lid van die Britse militêre orkes, maar het uit die weermag gedros weens swak behandeling en het op Wakkerstroom gaan woon. 


Kaptein Jack Hindon en sy treinvernielers
Foto: www.fotosearch.com


Jack se vrou, Martha Pauline, ’n nooi Coetzee
Foto: geni.com

Teen die tyd van die Jameson-inval van 1895-1896 het Jack aktief aan Boerekant geveg en as blyk van waardering het hy Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) burgerskap ontvang. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog in 1899 was Jack ’n lid van die Middelburg-kommando.

Hy het by die Zuid-Afrikaansche Republiek Politie (ZARP) aangesluit en as lid van die Rijdende Politie is hy Natal toe. Jack het onder meer op 20 Oktober 1899 aan die Slag van Talana deelgeneem; hy was op 30 Oktober 1899 by Bulwana en op 15 November 1899 by Chieveley.


Kaptein Jack Hindon en sy treinvernielers
Foto: www.fotosearch.com

Vlag
Dit was op 20 Januarie 1900 met die slag by Tabanyama, net voor die Slag van Spioenkop op
24 Januarie, waar Jack uitgeblink het toe hy saam met Henri Slegtkamp en Albert de Roos die Britse magte terug gehou het en die Vierkleur op die kruin gehys het.

Sommige bronne sê dat dié vlag ’n Vyfkleur was, ’n kombinasie van die vlag van die ZAR en die Oranje Vrystaat-republiek, wat deur Jack se meisie aan hom gegee is.


Jack en Albert de Roos met die uitbeelding van die vlag-insident. Die skrif op die foto lees:
“De Helden van Spioenskop”
Bron: Herman Labuschagne

Jack, Henri en Albert het op eie inisiatief die kop uitgeklim en die Britte se linkerflank onder hewige geweervuur gebring. Die Britte het gedink dat die kop baie sterk beman was en het teruggetrek. Dit het die Boeremagte se moreel so versterk dat die kop weer beset is. So is die weg gebaan vir die glorieryke oorwinning by Spioenkop vier dae daarna.

Die nag van 25 Februarie 1900 het Jack waardevolle verkenningswerk by Pietershoogte gedoen en in Junie 1900 het hy lid van Danie Theron se verkennerskorps geword en Vrystaat toe gegaan waar hy deelgeneem het aan ’n aanval op ’n Britse konvooi tussen Kroonstad en Lindley.


Jack in Amerika
Foto: antiquarianauctions.com


Jack se vrou help hom met die rolstoel
Foto: geni.com

Treine
’n Nuwe fase volg toe Jack aangestel is as hoof van ’n korps, wat aanvanklik Britse kommunikasielyne moes ontwrig en toe begin het met die ontwrigting van spoorweglinies.

In Oktober daardie jaar is hy tot kaptein van ’n veg- en verkennerskorps van 50 mans bevorder. Hy het binne ’n japtrap ’n verskrikking vir die Britte langs die Oosterspoorlyn (Pretoria-Delagoabaai-spoorlyn) geword.


’n Kamma-slag in die ‘Boere-oorlog skouspel’ in St Louis, 1904
Foto: reddit.com

Jack het self die ‘landmyne’ gemaak om treine te laat ontspoor. Hy het Martini-Henry gewere gebruik wat 10 cm voor en agter die magasyn afgesaag is. Dié het hy onder die spore begrawe, maar die sneller het bo die grond uitgesteek en was aan dinamiet verbind. Die sneller is dan afgetrek deur die trein se gewig op die spore.

Die Britte het vanaf Augustus 1901 begin om blokhuise en doringdraad langs treinspore op te rig en het die spore gereeld gepatrolleer. Lord Kitchener het ook gedreig om boervroue en -kinders voor in Britse treine te laai sodat hulle eerste sal doodgaan as die treine opgeblaas word.


Gustav Preller se boek, ‘Kaptein Hindon, Oorlogsaventure van ’n Baas Verkenner’
Foto: antiquarianauctions.com

Jack is deur ‘koors’ platgetrek, net voor die oorlog tot ’n einde gekom het. Ander bronne sê dat hy aan ’n neurologiese siekte gely het, wat deur die oorlog veroorsaak is. Hoe dit ook al sy, Jack het later blind geword en kon die laaste vyf jaar van sy lewe nie loop nie.

Sirkus
Hy is op 23 Februarie 1903 met ’n Afrikaanse vrou, Martha Pauline Coetzee, getroud. Hulle het geen kinders gehad nie. Soos baie ander uit die Boeremagte, soos generaals Ben Viljoen en Piet Cronjé, het Jack en sy vrou ook in 1904 na die ‘St Louis World’s Fair’ in St Luis, Missouri VSA gereis om aan die ‘Anglo-Boer War Historical Libretto’ deel te neem.

Hulle militêre vertoning het as die ‘Boere-oorlog Sirkus’ bekend gestaan. Frank Fillis het dit as die grootste en mees realistiese militêre skouspel in die wêreld se geskiedenis bemark. Daar was ’n Britse kamp, verskeie Afrika statte, wat Zoeloes, Boesmans, Swazi’s en Ndebeles uitgebeeld het, en ’n 61 000 m² arena waarin soldate aan parades, sport en perderesies deelgeneem het. Die hoof veldslae uit die Engelse Oorlog is twee keer ’n dag uitgevoer.


Die Amerikaner, dr John Tower Blake, in wie se huis op Middelburg Jack gratis gewoon het
Foto: geni.com

Elke veldslag het twee tot drie ure geneem en verskeie generaals en 600 veteraan-soldate uit beide Boere- en Britse geledere het deelgeneem. As die hoogtepunt van die skouspel het generaal Christiaan de Wet op ’n perd ontsnap deur vanaf ’n hoogte van 11 meter in ’n poel water te spring.

Toegangsfooie het van 25 sent tot $1 gestrek en toegang tot die statte was ’n verdere 25 sent. Dié produksie het $48 000 gekos om op te rig en die opvoering het ’n totale bedrag van $630 000 ingebring en omtrent $113 000 tot die St Louis World’s Fair se koffers bygedra – die mees winsgewende militêre skouspel by die geleentheid.


Die program vir die Engelse Oorlog-skouspel by die ‘World’s Fair’, St Louis in 1904. Lord Roberts is links onder en Generaal Cronjé regs onder
Bron: Wikipedia

Bankrot
Dié sirkus is daarna na Coney Island geneem, waar dit in die somer van 1905 op ’n stuk moerasgrond tussen Manhattan- en Brighton-strand afgespeel het. Daar het die sirkus bankrot gespeel en die meeste van die Boeremagte-deelnemers was sonder ’n sent in New York gestrand. Baie van dié Boere het hulle permanent in die VSA gevestig.

Jack en sy vrou is deur Ierse Amerikaners ingeneem en het tussen die VSA en Holland gereis tot die Suid-Afrikaanse Uniewording in 1910. In 1911 het Louis Botha, eerste minister van die nuwe unie, Jack se ‘verbanning’ tot niet verklaar en Jack, wat toe al baie siek was, het op Middelburg in die Transvaal gaan woon.


As hoogtepunt van die skouspel het generaal Christiaan de Wet op ’n perd ontsnap deur vanaf ’n hoogte van 11 meter in ’n poel water te spring. Dié toneel is by Coney Island in 1905 uitgebeeld
Foto: westland.net

Dr John Tower Blake, ’n Amerikaner wat op Middelburg gewoon het, het vir Jack en sy vrou gratis verblyf in Blake House gegee. Hoekom dr Blake in Suid-Afrika was, weet niemand vandag meer nie.

Dié mediese praktisyn en soldaat is op 1 Desember 1840 in Providence, Rhode Island, VSA gebore. Hy is met die Slag van Gettysburg op 2 Julie 1863 in die gewrig gewond en het in 1864 uit die Amerikaanse weermag getree.


John Tower Blake se graf in die Middelburg-begraafplaas

Vriende
Vriende in die regering het seker gemaak dat Jack se vrou, Martha, werk gehad het en dat Jack ’n inkomste uit skenkings kon kry. Gustav Preller het ’n fiktiewe biografie van Jack se lewe geskryf en dit is verkoop om fondse in te samel.

Met die 1914 Rebellie het Louis Botha vermoed dat Jack die rebelle opgestook het, maar teen dié tyd was Jack reeds blind, verlam en het geweldige pyn verduur. Tog was hy woedend oor Louis Botha se aantyging en het ’n politieke stuk geskryf, wat later as briljant verklaar is.

Wat van al Jack se skrywes geword het, is ’n raaisel. Geskiedkundiges soek vandag nog na die ‘verlore manuskrip’ wat Jack oor die oorlog, vroeë Afrikaner nasionalisme en sy siening oor sy tyd en sy aangenome land geskryf het.


Die Jack Hindon-medalje
Foto: bidorbuy.co.za

Hy het al sy persoonlike geskrifte aan Gustav Preller nagelaat met die versoek dat sy manuskrip eers ná sy dood gepubliseer moet word. Dit het nooit gebeur nie. Gustav het nooit verduidelik hoekom hy dit nie gepubliseer het nie. Navorsers vermoed dat Gustav of iemand ná hom, dié manuskrip vernietig het.

Jack Hindon is op 19 Maart 1919 in ’n Pretoriase hospitaal oorlede toe hy maar 44 jaar oud was en is naby sy vriend, dr Blake, in die Middelburg-begraafplaas begrawe. Dr Blake se graf wys dat hy op
22 Julie 1927 in die ouderdom van 86 jaar oorlede is – meer as agt jaar ná Jack se dood.


Jack se graf in die Middelburg-begraafplaas: “Ter nagedagtenis aan my man Kaptein Jack Hindon.
Tot die laaste druppel bloed onverskrokke, dapper, getrou, en goed.
Oliver John Hindon. 1874 – 1919”
Foto: boerenbrit.com

Medalje
Om Jack se brawe dade te vereer, is die Jack Hindon-medalje op 24 Februarie 1970 ingestel. Dit is aan manskappe van kommando’s van die Suid-Afrikaanse Weermag toegeken vir dapperheid in vrede- en oorlogstyd.

Die medalje se voorkant is ’n reliëfafbeelding van Jack en twee van sy makkers waar hulle die Vierkleur met die Slag van Spioenkop hys. Op die keersy verskyn die versierde RSA wapen in reliëf. Die Jack Hindon-medalje vir dapperheid is in 1975 afgeskaf.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger