Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 22 July 2010 10:52
Untitled Document

Louis Lategan skryf aan dr Liesel van der Merwe:
Ek moet ’n projek vir die skool doen en ek en my maat het besluit om te kyk na sy honde se gedrag. Ek wil graag weet van u of die gedrag van die honde normaal is, of is dit frustrasie?

Ons het twee Jack Russels dopgehou. Hulle skeur alles voor die voet stukkend. Ons het toe twee beertjies gevat, een in rissiesous gedoop en ’n ander in asyn. Ons het gevind dat die asyn-beertjie ’n week gelê het en toe opgeskeur is, maar die beer in rissiesous is dadelik opgeskeur asof dit niks is nie.

Ons het toe ’n vraelys in die graad rondgestuur en ander maats oor hulle honde gevra en baie kinders het gesê hulle Jack Russels doen dieselfde maar daar is ook ander honde wat dit doen. Hulle skeur hulle komberse en kou alles wat voorkom, maar die honde is nie meer klein nie.

Ek wil graag weet of Jack Russels meer geneig is tot sulke gedrag en waarom die honde dit doen? Die honde het ’n redelike groot tuin, soos ’n dorpstuin, en elke middag gee hulle baas aandag vir hulle. My maat en ek het al selfs probeer om met hulle te gaan stap maar dit was ’n nagmerrie en ons sal dit nooit weer doen nie. Kan u dalk u mening gee wat dalk die probleem kan wees?

Dr Liesel van der Merwe antwoord:
Dankie vir jou vraag. Ek is beïndruk met jou eksperiment. Om goed te verskeur is normale gedrag vir honde want dit is hoe hulle in die natuur hulle vleis sou eet. Sommige honde is meer geneig om te kou. Jong hondjies kou baie omdat hulle spelerig is en nog leer. Honde kan ook kou as hulle verveeld is of onder druk is soos skeidingsangs en honde wat bang is vir weerlig.

Ongelukkig dink baie mense dat omdat ’n hond klein is, hy in ’n klein tuin kan regkom. Die soort geaardheid van die hond is eintlik meer belangrik. Besige honde soos Jack Russels en worshonde het eintlik baie spasie en stimulasie nodig. Hulle is geneig om te kou, want hulle is geteel om werk te verrig. Die grootte van ’n tuin maak nie op vir te min stimulasie nie. Eintlik kan die groter lui honde soos great Danes beter regkom in ’n klein tuin.

Jy moet ook onthou dat honde ’n trop-gesindheid het. In die natuur is hulle altyd in ’n groep en tree op om ’n rangorde te handhaaf. Belangriker as die erf-grootte is die stimulasie wat honde kry. Hulle kan baie dinge hoor en ruik en is nuuskierig, maar met al ons hoë mure kan hulle nie altyd sien wat aangaan nie.

Die feit dat julle met hulle will gaan loop is ’n baie goeie idee, maar jy kan nie verwag dat dit die eerste keer goed sal verloop nie. Dit is belangrik dat jy hulle gereeld uitvat, dan ontwikkel hulle ’n roetine en sal ook meer ontspan as hulle weet dat hulle gaan uitkom en stap. Later kan julle met hulle gaan draf ook, dan is hulle ook te moeg om stout te wees. Dink net hoe jy sal voel as jy die hele dag net op jou erf is.

Miskien moet jy hulle eers gewoond kry om met die leiband in die tuin te loop - selfs apart. As hulle dit mooi doen, vat jy hulle uit vir ’n stappie. ’n Harnas is ook soms beter vir klein honde as ’n nekband. Jy moet ook nie dat hulle jou trek nie. Die leiband moet kort gehou word dat hulle mooi langs jou loop. Jy moet wys wie is baas. Beloon goeie gedrag. Dit help nie om hulle ’n klap te gee as hulle stout is nie - dan raak hulle net meer opgewonde.

Laat my oor so ’n maand of wat weet hoe dinge gaan.

Brief verkort.-Red

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger