Mis jou, my maatjie Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 18 August 2010 02:20
Untitled Document

Mandie Jacobs van Tiegerpoort skryf:
Ek het onlangs gelees van iemand wat gekla het oor die kostes van veeartse. Mense is vinnig om ’n oulike hondjie of katjie in hul huise in te bring, maar gou om kwaad te word as hul siek word. Ek het wel ’n veearts gevind wat billik is en baie simpatiek: Valley Farm Dierehospitaal in Old Farm Weg, Faerie Glen.

Wat ’n wonderlike praktyk. Ek moes my 11 jaar oue Dalmatian uitsit, en het orals rond gebel om te hoor wie dit by my huis in Tiegerpoort kan kom doen aangesien ek haar nie wou ontstel deur haar na ’n veearts toe te vat nie. Patches moes in haar eie bedjie uitgesit word, by die huis met haar familie by haar.

Na ek vele veeartse probeer het, (een in Lynnwood wou my amper drie keer meer gevra het as wat ek op die ou einde betaal het) het my vriendin voorgestel dat ek Valley Farm probeer.

Op 28 Junie het hul na my huis toe gekom, baie simpatie getoon en my ou vroutjie in haar eie bedjie laat slaap, haar opgelaai en saamgevat en vier dae daarna kon ek haar as gaan haal. Dit was nou wonderlike diens. En dit het my baie minder gekos as wat ek sou betaal het by die ander veeartse. Ek sal almal aanbeveel om gerus ’n draai by hulle te gaan maak; julle sal nie spyt wees nie.

Baie dankie aan almal by Valley Farm. Julle het gewys dat daar tog veeartse is wat ons hartseer met ons sal deel en dit verstaan as ons snot en trane huil as ons kindjie aan die slaap raak. Mis jou, my maatjie.

 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger