Ongehoorsame ouers Print E-mail
News - Briewe
Friday, 24 September 2010 07:31
Untitled Document

Annatjie Krige van Derdepoort skryf:
Toe ek julle eenvoudige, passievolle tydskrif lees het dit my geïnspireer om te skryf. Ek was die week so gekonfronteer met ongehoorsame ouers en die traumatiese gevolge van volgehoue ongedissiplineerdheid dat ek dit net met iemand moet deel.

Ons het ’n sentrum vir dwelm- en alkohol- verslaafdes hier op die gevreesde Molotopad by die Annatjie Krige kunsgalery. My man, Ado Krige, het ’n dwelmprobleem gehad. Hy is die afgelope jare intens betrokke by voorkoming en bekamping van dwelms. Ek veg nou saam met hom in die dwelmoorlog wat verwoed besig is om ons jongmense in te sluk.

In ons werk met die dwelmverslaafde persoon vind ons deurgaans ouers wat in baie opsigte dieselfde manier van kinders grootmaak gedoen het. Dis die rede vir my skrywe, om ander te help om ’n dwelm trauma te voorkom. Ek kon nooit heeltemal verstaan waar die probleem sy oorsprong het nie.

Nou, ná intensiewe werk as arbeidsterapeut met ouers en verslaafde jongmense besef ek waar. Ons kinders is stukkend en verwaarloos omdat ouers hulle met te veel toegewings en te min dissipline en grense probeer gelukkig hou. U het reg gelees; sagte liefdevolle ouers met min dissipline is een van die groot oorsake.

Ons probeer hulle gelukkig hou deur net te gee sonder grense. Soms stel ons grense, maar is alte gewillig om die grensdrade te skuif sodra die kind ongelukkig raak. ’n Pa en ma wat onwrikbaar saamstaan om grense te stel en nie daaraan skuif wanneer kinders begin eise stel nie, leer (jong) kinders om binne tevrede te wees en omstandighede te aanvaar. Natuurlik sal hulle probeer om die grense te toets. Hulle moet jou toets om te sien of jy jou woord kan hou en bedoel wat jy sê.

Hier wen jy respek of verloor dit. Sou jou kind jou grens geskuif kry met tantrums, manipulasies of skuldgevoelens, het jy as ouer verloor.

Ek rig hierdie dringende brief aan ouers wat nog in die bevoorregte posisie is om te kan red wat te redde is. Wanneer jou kind nog klein en emosioneel afhanklik van jou is, is vorming maklik, maar hierdie seisoen is so vinnig verby.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger