Voel verkul deur veearts Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 09 December 2010 22:50
Untitled Document

Trix skryf via ons webtuiste:
Ons het op 25 Oktober ’n straatbrak gekry op ons plot. Hy was verskriklik menssku en het weggehardloop as jy probeer nader kom. Hy het nie uit die erf gegaan nie en na die tweede dag het ons vir hom kos en water neergesit.

Op Sondag 31 Oktober toe ek die huis oopsluit, is hy binne in. Hy was oortrek met vlooie en bosluise. As straatbrak in my huis wil kom en aanbly sal hy moet bad. Ek het hom gevat en gaan skrop.

Toe ek hom omdraai om sy maag te was het ek gesien dit is ’n mannetjie en dat sy “manly hood” met ’n rekkie vasgebind is en besig was om af te vrot. Ek het dadelik die veearts gebel om te hoor wat my te doen staan en wat dit gaan kos.

Die ontvangsdame het gesê R220 vir die konsultasie, R720 vir die operasie en R120 om die nag te bly. Dit gee my so R1 000. Dan kan ek nog frontline kry vir my ander honde, so dit klink billik en my man val toe daarvoor.

Ons ry toe dadelik met hom veearts toe en die veearts lyk baie vriendelik en aangenaam. Ek vertel toe weereens vir haar die hele storie.

Die volgende oggend bel die verpleegster my en vra of hulle ons “optelkind” wat hulle hom genoem het, se tande kan skoonmaak. Ek hoef dit nie nou te doen nie, maar sal dit in die volgende paar maande moet doen. Ek sê toe okay, maar wat gaan dit kos? Sy weet toe nie sal my terug bel.

So vyf tot tien minute later bel sy my; dit sal R1 000 wees. Ek sê toe, jy is seker gek; ek het nou die dag dit nie eers betaal vir my eie tande nie. Ek sê nee wat, vergeet dit maar. My man sal my vermoor as ek dit op ’n straatbrak uitgee wat ek nie eers weet of hy hier gaan bly nie.

Die middag 13:00 bel die ontvangsdame en sê optelkind se operasie was ’n sukses; ons kan hom na 17:00 gaan haal. Ek sê toe baie dankie; kan sy asseblief vir my sê wat die skade is sodat ek die kontant kan reg saambring. Die antwoord was R2 525.20. Ja, julle het korrek gehoor.

Ek vra toe wat de hel hulle met die hond aangevang het. Jammer, sy kan my nie antwoord nie; ek moet self met die veearts praat as ek die hond kom haal. Kom daar aan en vat dit toe op met die veearts wat my help. Sy sê sy kan my ongelukkig nie help nie, ek moet wag vir die veearts wat my gehelp het. Dié trek net haar skouertjies op en sê jammer ek moes my saak beter gestel het.

Goed en wel, maar wie in hulle goeie verstand betaal R2 525.20 / R3 525.20 (as jy die tande byreken) vir ’n optelbrak wat nie eers myne is nie. Ons vorige veearts (wat afgetree het) sou ten minste vir my gesê het: Poplap, dit gaan jou ongeveer R3 000 kos om die hondjie te red of R600 om hom te laat uitsit.

Ek weet nie of ek te veel verwag het van die veearts nie, maar soos ek al met familie en vriende gepraat het daaroor is/was ek nie die eerste persoon wat al die stel afgetrap het daar nie. So, wees gewaarsku, kry ’n kwotasie swart op wit voor jy ook dalk in dieselfde slaggat trap.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger