Werkloosheid begin bose kringloop Print
News - Ons Mense
Friday, 16 July 2021 06:48
Untitled Document

Angie Kleijn

Skokkende statistieke toon dat van die 682 000 mense wat vroeg in die grendeltyd hulle werk verloor het, net 92 000 weer in diens geneem is.

“Ons maatskaplike werkers sien reeds lankal die impak van werkloosheid op gesinne – en dit gaan oor veel meer as kospakkies uitdeel,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos.

“’n Gesin wat finansieel afgetakel word, se struktuur kan begin verkrummel. Onderlinge verhoudings begin deurloop, stres buig menige mense se rûe – en kinders kan die spanning aanvoel. Nie net omdat geld skraps is nie, maar oor wat onsekerheid aan mense se menswees doen. Ouers en kinders kan na gewoontevormende middels draai om hul probleme te probeer verdoof, en so word ons taak soveel moeiliker,” sê Henda.

Die Cullinan/Rayton Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het onlangs gewaarsku dat geskenkte kospakkies in dié gebied ongelukkig soms vir dwelms verkoop word. “Dit is iets wat al vir jare die moed van almal wat iemand in nood wil help, breek,” lui die GPF se verklaring.


Werkloosheid is ’n realiteit
Foto: thefnc.com

“Ons wil graag mense daarteen waarsku om kospakkies te skenk en hulp te verleen, sonder om seker te maak wat die ware huishoudelike omstandighede is. Verwys liewer mense wat om hulp vra na Helpende Hand of die CMR. Dié organisasies weet hoe om te ondersteun sonder om dwelmmisbruik te bemagtig.”

Henda sê dat sommige kinders eenvoudig uit omstandighede wat vir hulle gevaarlik is, verwyder moet word. “Dit is egter nie ons doel nie. Ons probeer in alle gevalle gesinne binne-in hulle unieke omstandighede bystaan, ondersteun en toerus om self die mas op te kom. Ons het programme in al ons areas wat daarop gemik is om ’n wye reeks probleme aan te spreek,” sê sy.

“Dit bly waar dat ’n kind se grootste behoeftes liefde, koestering en beskerming is. ’n Gesin waar albei ouers werkloos is, ly seker die ergste. Jong kinders word gekonfronteer met honger. Hierdie getalle groei en dit lyk nie asof ons te gou ’n ommekeer hierin gaan sien nie.”

Henda sê dat CMR Gauteng-Oos jaarliks meer as 27 000 mense met maatskaplike werk dienste bereik.

CMR takke in ons gebied kan as volg bereik word:

  • CMR Faerie Glen: NG Kerk Pretoria, Glenwoodweg: 012-361-5770.
  • CMR Bronkhorstspruit: NG Kerk op die hoek van Generaal Louis Bothastraat en Corneliusstraat: 013-932-0459.
  • CMR Cullinan/Rayton: Rayton Christian Church op die R515: 012-734-8000.
  • CMR Moreletapark: Moreletapark Gemeente, De Villebois Mareuilweg: 012-997-8037/8112.